Padmerke

Rigtingpyle en Blokkruisingmerke

Verpligte rigtingpyle

Waar: Op enige pad voor ’n kruising.

Doel: Om aan te toon dat jy slegs mag voortgaan in die rigting wat deur die pyl in jou baan aangedui word.

Optrede: Kies betyds die regte baan om in die rigting te ry waarheen jy wil gaan.

• Maak seker dat ander verkeer die verpligte rigtingpyle in hul bane gehoorsaam.

• Kyk na jou blinde kol voordat jy regs draai, om te sien dat ’n voertuig in die baan langs jou wat veronderstel is om regs te draai (weens die verpligte regsdraaipyl in sy baan) nie reguit aanhou nie.

Verpligte rigtingpyle in rybane voor ’n kruising

Busbaanmerk

Waar: Aan die linker- of regterkant van ’n pad in ’n stedelike gebied.

Doel: Om daardie deel van die ryweg aan te dui wat slegs vir busse gereserveer is gedurende die tye wat op die teken aangedui word.

Optrede: Indien jy nie ’n bus bestuur nie, moenie in die baan ry wat deur die teken aangedui word gedurende die tye op die teken nie.

Busbaanmerk op die padoppervlak

Blokkruising

Waar: By kruisings.

Doel: Om bestuurders te verbied om in die afgebakende area stil te hou, omdat dit ander verkeer kan verhoed om te draai of verder vorentoe te ry.

Optrede: Moenie in die afgebakende blok stilhou nie, en maak seker dat jy deur die kruising sal kan ry voordat jy die kruising binnegaan.

Blokkruisingmerke by ’n kruising